Kiekies - Lucas Maree se liedjies
Wed Jul 12, 18:30 - Wed Jul 12, 21:30
chiesa di PAZZO LUPi
ABOUT
Lucas Maree as liedkunstenaar het min gelykes in Afrikaans. ’
n Groot vriend en kollega van Lucas, Jannie du Toit, bied saam met die briljante musikant en sanger Thean Kotze (stigterslid van “Ses Snare”, vroeër ook lid van die duet “Limpopo”) ’n huldeblyk aan, getitel “Kiekies – Lucas se liedjies”. Hulle herontdek sy verbeeldingryke kyk na die lewe en laat die gehoor met persoonlike anekdotes iets beleef van sy uitsonderlike menslikheid en kreatiewe gees.
Soos Lucas self die sestigs se folk gesing het met die klem op fyn afgeronde kitaarspel, harmonieë en tekste wat iets te sê het, beweeg Thean en Jannie singend en spelend deur die wonderlike landskap van verhale, ideale, wysheid en drome wat Lucas geskep het. Sy liedjies boei oud en jonk – ’n seuntjie se gewaarwordinge oor ’n treklorrie tot eindelose, doellose gesprekke tussen geliefdes en die ontdekking dat liefde nie minder word as dit weggegee word nie. Natuurlik is Droomvrou, Sunnyside, Victoriabaai en ’n paar ander bekende liedjies daar, maar kom ontdek juweeltjies soos Gebed in die Laataand, Treklorrielied, Die Bedelspeler, Jerigo se Mure en veel meer. Daarby kom Thean se roerende weergawe van Lucas se kortverhaal-skets oor die Karoo. Dis sielskos.