Juan Boucher live by Kapstadt Brauhaus Strand
Thu Feb 1, 20:00 - Thu Feb 1, 21:15
Kapstadt Brauhaus Strand
ABOUT
Juan Boucher | Die Rower Akoestiese Toer
1 Februarie 2024
19:30 vir 20:00
Kapstadt Brauhaus Strand
Juan boucher is met rede een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars. Sy musiek het die vermoë om jou dansvloer toe te sleep, sy stem skuur soos honderdgrein skuurpapier oor die klank van elektriese kitare en met sy lirieke deel hy digterlik en opreg sy eie lewens ervaring.
Juan het oor die afgelope vyftien jaar bekend geword vir sy vermoë om te kan wissel tussen opgewekde dansmusiek en treffende rock-ballades, maar deur die verskillende genres word die tema van liefde konstant herroep. Deur sy musiek dra Juan sy hart op sy mou en deel hy amper outobiografies stories van nuwe liefde, teleurstelling en soms verlies. 2021 was ‘n groot jaar vir Boucher. Hy het met sy droomvrou getrou en gaan binnekort pa word. Daarom voel dit gepas dat Juan, wie inspirasie vanuit sy eie lewe put om liedjies te skryf, besluit het om sy nuwe album Hier Waar Ek Nou Is te noem.
‘’Juan het nog altyd oor liefde geskryf. Soms opvallend ander kere nie,’’ deel vervaardiger Tertius Human. ‘’maar hy is getroud en hy het ‘n kind oppad en uit my eie ervaring word jou verwysingsraamwerk vir liefde skielik anders. Dis ‘n baie harde realiteit, want jy leef nie meer vir jouself nie. Ek dink dis waar hy nou is. Hy besef hy leef nie meer net vir homself nie en jy kan dit hoor in die manier waarop hy skryf.’’
Perspektief is nie al wat verander het nie, want Hier Waar Ek Nou Is gaan ook Juan se aanhangers aan ‘n nuwe klank voorstel.
‘’Ons was opsoek na ‘n nuwe klank vir Juan se nuutste album. Ons het geluister na John Mayer se Last Train Home. Die manier waarop hy die blues-kitaar saam met Synth en Dreamwave gekombineer het, het baie gegrens aan daai 80’s The Cure tipe klank en ons was mal daaroor. Ons het net gehardloop daarmee en dit het gemaklik en ongevorseerd gevoel om dit te implementeer,’’ vertel Human.
Juan se Kitaarspeler, Rudi Kleingeld was ook betrokke met vervaardiging en het die kitaarverwerkings op die album geskryf. Aanhangers sal steeds Juan Boucher in die album voel, maar dis ‘n nuwe gevoel. Hier Waar Ek Nou Is, is die kulminasie van evolusie waar deur Juan gegaan het met sy laaste drie albums. Dit is volwasse en minimalisties, maar lewer steeds ‘n musikale skop.