No under 16s

Die begrafnis van tradisionele vroulikheid

Sat Sep 14, 18:00 - Sat Sep 14, 22:00

196 Victoria

ABOUT

Jy word uitgenooi na die begrafnis van Tradisionele Vroulikheid wat met ’n sug heengegaan het in hierdie jaar 2024 ná 5000 jaar van aandadigheid in patriargale stelsels van geweld en vernietiging. Aangebied deur Turksvy (redakteurs: Azille Coetzee & Bibi Burger).


TRADISIONELE VROULIKHEID IS DOOD. Of ons verklaar haar so. Op Saterdag 14 September is dit haar begrafnis.


Dit is ’n dag van gemengde gevoelens, want al is ons bly dat sy weg is, het ons haar almal baie goed geken. Al was sy hard op ons, was ons gemaklik by haar en geborge. Om van haar afskeid te neem verg dat ons van voor af vra wie ons is, wie ons wil wees, wat ons wil hê, en wat ons wil doen in die wêreld. Sommige mag dalk wonder hoekom ons in ’n oomblik soos hierdie tyd aan so ’n beuselagtige saak bestee. Hoekom energie afstaan aan die begrafnis van Tradisionele Vroulikheid wanneer daar oorlog gevoer word, geweld gepleeg word, die omgewing vernietig word, en alles anders? Is daar nie belangriker dinge wat ons veronderstel is om te doen nie?


Die antwoord is eenvoudig: kolonialisme, kapitalisme en witheerskappy is patriargale stelsels wat staat maak op tradisionele genderrolle en -reëls. Tradisionele Vroulikheid was mooi, maar wreed. Tradisionele Vroulikheid se plek is by haar man, maak nie saak wat hy alles doen nie. Gelukkig het Tradisionele Vroulikheid ons verlaat en kan ons bymekaar kom sonder haar, op ’n nuwe soort manier.


Hiermee word jy dus uitgenooi om saam met ons byeen te kom vir ’n aand van feministiese, queer, en trans solidariteit en viering in ’n performance kuns-seremonie om die heengaan van Tradisionele Vroulikheid te merk. Met performance kuns deur Lorin Sookool, Veronique Jephtas en Nicolene Burger.


Peuselhappies en koek ingesluit. Kontantkroeg beskikbaar. Straatparkering beperk. Moenie blomme bring nie.


Bring ’n voorwerp (van geringe waarde) saam wat vir jou tradisionele vroulikheid verteenwoordig – iets wat in die palm van jou hand pas. Elkeen gaan hul voorwerp 'begrawe' as deel van die ritueel en na afloop van die begrafnis gaan Nicolene Burger ’n kunswerk skep daarmee.


Geleentheid geborg deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

DIRECTIONS

Die begrafnis van tradisionele vroulikheid
196 Victoria
Antique Warehouse, 196 Victoria Rd, Woodstock, Cape Town, 7925
Get Directions